maandag 16 juli 2007

Baby met vier bene nou in G’teng-hospitaal

Die babameisie wat verlede week in Limpopo (Suid-Afrika) gebore is met vier bene, is nou in ’n Gautengse staatshospitaal. Me. Zanele Mngadi, woordvoerder van die Gautengse gesondheidsowerheid, het gister gesê die kind is eergisteraand by die Dr. George Mukhari-hospitaal in GaRankuwa aangebring waar dokters haar nou ondersoek. Die meisie, wie se twee ekstra bene vas aan mekaar uit haar bekken groei, is verlede Donderdagaand in die Lebowakgomo-distrikshospitaal gebore. Sy is die volgende dag na die Mankweng tersiêre hospitaal naby Polokwane oorgeplaas. Die ma (23) van GaMphahlele in Tooseng het Vrydag gesê sy het “groot geskrik” en voel baie “sleg” oor wat gebeur het. Volgens me. Pepsile Maseko, ’n woordvoerder van die vereniging van tradisionele genesers in Suid-Afrika, sien die familie van ’n swanger vroue in tradisionele gemeenskappe uit na die koms van ’n gesonde mooi baba, as ’n soort “geskenk”. Wanneer daar fout is, word soms daarna verwys as umhlolo (iets ongewoons) wat deur heks-ery veroorsaak kan word. Die familie besoek so gou moontlik ’n tradisionele geneser vir berading en moontlik ’n verklaring hoekom die “ongelukkigheid” oor hulle gekom het. Volgens Maseko word die ma soms gestigmatiseer en kan dit gebeur dat haar man en skoonfamilie haar verwerp. Dokters vermoed die Limpopo-baba is dalk die produk van ’n identiese tweeling wat nie behoorlik geskei het in die baarmoeder nie.

Geen opmerkingen: